"Ons is die groen Ons is die hout Ons is die ogies Ons is die woud Ons is die takkies ‘Jy weet mos, jy weet mos' Ons is die stilte Ons is die bos" Ek volg ‘n skoenlapper tussen die bome deur En die houtkappers kan op hul byle sweer Hulle't jou gesien tussen die stamme sweef Met ‘n rytjie blomme in jou skaduwee geweef En die ruigte wat buig om jou enkels te soen En stemmetjies wat fluister van elke seisoen En groen en dors en water en slange En ‘n menigte blare wat vloei van jou wange En so groei my verlange om jou self te ontmoet Met die afdruk van God en Sy asem in jou bloed En ek waag self die diepte agter die skoenlapper aan Dit is asof sy vlerke my gedagtes verstaan Hulle moedig my aan en my hart klop nou vinnig Die blaredak word digter en ek wonder oor die sonlig Wat nou so bietjie melkerig die paadjies laat verdwyn En uit die hoeke van my oë tussen die groen en die bruin Vermenigvuldig die bewegings van diertjies wat my afloer My voetstappe wat eggo teen die stamme en die bosvloer Klink skielik nie alleen nie maar ek kyk liewers voor my En druk deur die bos se arms, hoeveel kan daar nog oorbly? Dis asof my hardloop nou stoom kry maar die bome word al digter Ek byt vas deur die skrape, die tuimel en die splinters Bollemakiesie myself flenters maar ek staan elke keer op Grond tussen my tande en die bos is in my kop Ons loop kringe in mekaar, ons ontmoeting om die hoek Die spasies word al kleiner, ek word deur jou wortels ingekoek En nou soek ek die hart van die woud en sy lewe Ek hoor al hoe klop dit soos die grond begin bewe ‘N stewige dreun groei in die kreunende bome En stemme wat vibreer soos lewende drome En in ‘n oomblik is ek skielik in ‘n oopte op my eie Met die sagste groen gras van die mooiste valleie In ‘n sirkel omsingel deur ‘n kring van stamme En in die middel dans ‘n dwarrelwind van blaartjies soos vlamme En die wind begin sing soos instrumente wat praat En die blare styg al hoër in die vorm van ‘n ruggraat Klippies wat ‘n gesig maak... verbeel ek my? Skielik hoor ek my eie stem: "wie is jy?" "Ons is die groen Ons is die hout Ons is die oë Ons is die woud Ons is die takke ‘Jy weet mos, jy weet mos' Ons is die stilte Ons is die bos"